GAUTENG. – Die staat het ‘n formele aansoek by die Palm Ridge-landdroshof ingedien om landdros Katlego Mokoena te laat onttrek in die saak van die omstrede pastoor Paseka Franz Motsoeneng, beter bekend as pastoor Mboro.
Mboro, ‘n evangelis op televisie en leier van Incredible Happenings Ministries, het opslae gemaak nadat hy en twee mans by Laerskool Matshidiso in Katlehong opgedaag en twee kinders met geweld verwyder het.
Phindi Mjonondwane sê Mokoena, as voorsittende beampte, se onttrekking word gevra, aangesien redelike vrese bestaan dat sy dalk nie met beregting in die saak onbevooroordeeld sal wees nie.
Volgens Phindi Mjonondwane is die aansoek gebring weens redelike vrese dat Mokoena dalk nie onbevooroordeeld in die saak sal wees nie. Mjonondwane het die redes vir die staat se versoek verduidelik: “Sy het die verdedigingspan na haar kamers genooi in die afwesigheid van die staat en hulle na bewering aangeraai om die swak saamgestelde beëdigde verklaring ‘reg te maak’ voordat nuwe feite aangevoer word.”
Mokoena het ook, volgens die staat, “onvanpaste opmerkings teenoor die aanklaer gemaak tydens die borgtogaansoek, wat daarop dui dat sy bevooroordeeld is teenoor die staat. Verder het sy die saak sonder die vereiste dokumentasie op die hofrol geplaas, wat ernstige vrae oor haar prosedures laat ontstaan.”
Mjonondwane sê die staat is van mening dat bogenoemde omstandighede Mokoena se gedrag in twyfel bring, aangesien sy die geleentheid gehad het om hierdie aspekte behoorlik tydens die borgverhoor te ventileer, wat in sy aard, inkwisitorieel en ‘n feitesending is.
“Die aansoek van die staat om Mokoena te verwyder, is om te verseker dat hierdie verhoor billik en sonder vooroordeel verloop.”
Die hof sal Woensdag uitspraak oor die aansoek lewer.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Drie mans, insluitend pastoor Paseka Mboro, het Maandagmiddag chaos by Laerskool Matshidiso in Katlehong gesaai. Onderwysers en leerders is gewelddadig gedreig, waarna twee kinders met geweld verwyder is.
Die oorspronklike video is op Yusuf Abramjee se X-rekening geplaas. Nuusflits het dit aangepas om nie die kinders se gesigte te wys nie.
Steve Mabona, woordvoerder vir die onderwysdepartement, sê Matome Chiloane, die LUR vir onderwys, sport, kuns, kultuur en ontspanning, het die insident veroordeel.
Video’s wat van die insident geneem is, is wyd op sosiale media versprei. Die pastoor kan gesien word waar hy pangas rondswaai en gewelddadig dreig om onderwysers aan te val. ‘n Verdagte (vermoedelik die kinders se pa) het tydens die voorval die twee leerders gegryp, terwyl ‘n ander ‘n aanvalsgeweer rondswaai. Daar kan in die video gehoor word hoe die kinders skree en gesien word hoe daar verskeie kere met die panga na omstanders gekap word.
Mabona sê hierdie tipe optrede het nie plek in die skool of gemeenskap nie. Volgens die voorlopige ondersoek het twee seuns in gr. RR en gr. 2 se ma in April gesterf en ‘n dispuut het tussen die twee families van die jong seuns uitgebreek. Die pa van die kinders en die ouma aan die oorlede ma se kant, wat glo voogskap oor die kinders het, het Maandag met die skoolhoof vergader. Die skoolhoof is ingelig oor konflik wat die naweek tydens ‘n vergadering by die bekende SA-pastoor (oupa aan vaderskant) se huis uitgebreek het.
Omdat Mboro ná skoolure opgedaag het, het die onderhoof en personeel geweier om die kinders sonder die voog-ouma se toestemming aan die oupa te oorhandig. Die pastoor het met lyfwagte en wapens by die skool opgedaag. Mabona sê die onderwyspersoneel het volgens instruksies van die ouma opgetree om die pa te keer om die skoolperseel met die kinders te verlaat. Die personeel is met wapens gedreig, waarna die pa die skool met die kinders verlaat het.
Hierna het die gemeenskap betrokke geraak en die polisie is deur die skoolbeheerliggaam ontbied. Die kinderbeskermingseenheid het toegetree. Volgens bespiegelinge op sosiale media het die pastoor vir sy eie veiligheid na die polisiestasie gevlug.
Mabona sê die geaffekteerde onderwysers en leerders word vir trauma wat tydens die insident opgedoen is, ondersteun.
“Die veiligheid en welstand van ons leerders en opvoeders is van die hoogste prioriteit. Sulke dade van geweld en intimidasie ondermyn nie net die fondament van ons onderwysstelsel nie, maar het ook die potensiaal om die hele skoolgemeenskap te traumatiseer, veral gegewe dat hierdie voorval in ‘n laerskool met jong kinders en hul onderwysers plaasgevind het. Die departement is daartoe verbind om te verseker dat geregtigheid in hierdie saak geskied. Ons sal geen dade van geweld of intimidasie duld nie en sal alle nodige maatreëls tref om ons leerders en opvoeders te beskerm,” sê die LUR, Chiloane.





