Brekende Nuus
Nuus

Stasiebevelvoerder doodgeskiet wat verdagtes jaag

Foto's: SAPD

KWAZULU-NATAL. – ’n Polisiestasiebevelvoerder, ‘n kolonel, is Donderdagmiddag 12 November op die R33 in die rigting van Msinga doodgeskiet toe ’n skietery ná ’n sakeroof in Greytown uitgebreek het. Die kolonel het saam met haar span op die roof, waartydens ‘n winkeleienaar geskiet en gewond en werknemers aangerand is, gereageer.

Kol. Robert Netshiunda sê minstens 10 verdagtes het in ’n Toyota Quantum van die rooftoneel gevlug. Polisiebeamptes en private sekuriteit het hulle op die R33 ingehaal, waar ’n skietery uitgebreek het. Die stasiebevelvoerder is op die toneel dood verklaar en ’n sersant is met ’n skietwond aan die arm hospitaal toe geneem.

Twee verdagtes is doodgeskiet. ’n Derde is gewond, in hegtenis geneem en onder polisiebewaking hospitaal toe geneem. Die polisie het beslag gelê op twee gewere en ’n handwapen. ’n Soektog is aan die gang na die oorblywende verdagtes, wat op die vlug geslaan het.