WES-KAAP. – Steve Hofmeyr se Ikoon-konsert wat Saterdag in die DHL-stadion in Kaapstad sou plaasvind, is uitgestel, aangesien slegs 8 000 kaartjies verkoop is. Daar word na ‘n nuwe datum vir die konsert gekyk.
Die sanger sê: “Ek is behoorlik naar van teleurstelling. Gister was ‘n lang dag. Ons het als probeer om voort te gaan met die Kaapse Ikoon. Maar ek is, soos met meeste konserte, uitgelewer aan die kasboek van promotors en as dit nie klop nie, is daar min aan te doen. Ons het dieselfde bloutjie geloop met Steve Doen. My grootste bekommernis is natuurlik jy as jy jou kaartjie gekoop het of ander duur uitgawes aangegaan het. Ons het self ‘n vakansie gereël om die Kaapse konsert. Dankie vir jou geduld. Dankie aan die sangers wat verstaan. Vir ons sou 8 000 mense meer as genoeg wees.
Ek laat weet meer sodra ek self weet. So jammer.”
Cool Concerts sê in ‘n verklaring ‘n groter opkoms is verwag, aangesien daar nie enige van die ander Afrikaanse konserte, Afrikaans is Groot en Krone, in Kaapstad aangebied word nie. Dieselfde vertoning het 18 000 toeskouers by die Moreleta-kampus in Pretoria getrek.
Lees die volledige verklaring hier onder:
STEVE HOFMEYR IKOON-KONSERT UITGESTEL
Dis vir ons hartseer om die nuus bekend te maak. Ons moes die besluit neem om die Steve
Hofmeyr Ikoon-konsert wat Saterdag in die DHL Stadion sou plaasvind uit te stel. As Cool
Concerts was ons oortuig dat ons ‘n goeie opkoms in die stadion sou hê as gevolg van die afwesigheid van groot Afrikaanse vertonings in Kaapstad en nadat ons 18 000 toeskouers gehad het vir die vertonings by Moreleta Kampus.
Groot dank aan die 8000 kaartjies wat wel verkoop is. Ons kan eenvoudig nie die konsert volhoubaar
aanbied vir die hoeveelheid aanhangers wat kaartjies aangeskaf het in ‘n stadion-formaat nie. Ons het
reeds met al die rolspelers geskakel en ons gaan die bemarkingsveldtog weer loods in die aanloop na ‘n nuwe datum. Ons wil graag die konsert aanbied en ons bly toegewyd. Al die verskaffers is ons goedgesind en is bereid om ons inset-kostes as depositos te behou vir ‘n nuwe datum. Die DHL Stadion
steun ons in die besluit en wil ook graag die konsert se sukses verseker. Hulle wag vir ons voorstel vir ‘n nuwe datum.
Ons vra begrip en dat julle saam met ons toegewyd bly in die proses. Ook om saam met ons
soveel moontlik ondersteuning vir die konsert in te win om ‘n suksesvolle aanbieding moontlik te maak.
Met Afrikaans is Groot en Krone wat nie in Kaapstad aangebied word nie, is hierdie die laaste poging vir ‘n groot Afrikaanse konsert in Kaapstad. Ons bly toegewyd, en ons vra ons Kaapse gehoor om die konsert te ondersteun. Ons sal in verbinding wees met kaartjiehouers sodra die nuwe datum bevestig is, en
kaartjiehouers kan dan besluit of hulle hul kaartjies wil behou en of ons dit vir julle kan terugbetaal.
Julle is welkom om intussen met ons te skakel by devillierscycling@mweb.co.za”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com