GAUTENG. – Julius Malema gaan deur die nasionale vervolgingsgesag (NVG) strafregtelik vir crimen injuria vervolg word. Dit volg nadat hy glo uitlatings gemaak het waarin hy vir Jaco Pieterse, die voormalige skoolhoof van Bergview College in Matatiele, as ’n verkragter van kinders uitgebeeld het.
Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê vertoë is aan die NVG gerig nadat daar volgens die eenheid met ’n besluit oor die strafregtelike klag wat Jaco Pieterse verlede jaar teen Malema by die Sophiatown-polisiekantoor ingedien het, gesloer is. Die saak hou verband met ’n beweerde verkragting van ’n sewejarige meisie by Bergview College gedurende Oktober 2024.
Die NVG het volgens AfriForum in Mei verlede jaar bevestig dat niemand in verband met die beweerde verkragting vervolg sou word nie, weens ’n gebrek aan bewyse. Volgens die verklaring is die minderjarige deur mediese praktisyns en forensiese maatskaplike werkers ondervra en ondersoek, maar geen bewys van verkragting of seksuele aanranding is gevind nie. Malema het op 6 April 2025 tydens die EFF se Land Reclamation Day-geleentheid by Sophiatown Extreme Park in Johannesburg beweer dat ’n skoolhoof ’n sewejarige meisie verkrag het. Hy het ook gesuggereer dat die persoon moontlik voorheen soortgelyke oortredings gepleeg het. Pieterse en die skoolopsigter was daarna volgens AfriForum die teiken van ’n uitgebreide sosialemediaveldtog.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het in die vertoë aangevoer dat Malema self in die verlede howe genader het om sy reg op waardigheid te beskerm, nadat hy in die openbaar van ernstige misdade beskuldig is. Pieterse het gesê die NVG se besluit om Malema te vervolg, bring hom ’n stap nader aan geregtigheid. “Die valse bewerings het my nie net benadeel nie, maar ook geweldige pyn vir my familie en vriende veroorsaak,” het Pieterse gesê. Hy het gesê hy hoop die hofproses sal sy naam suiwer en ’n boodskap uitstuur dat daar gevolge moet wees vir mense wat ander van ernstige misdade beskuldig sonder om die gevolge van hul stellings in ag te neem.
Die hoofstaatsaanklaer van die Johannesburgse landdroshof is volgens AfriForum opdrag gegee om vervolging teen Malema in te stel. Dit is nog nie bekend wanneer hy in die hof sal verskyn nie.
AfriForum sê die eenheid sal intussen voortgaan met samesprekings met die NVG oor soortgelyke klagtes teen Fikile Mbalula, die ANC-sekretaris-generaal en Fundile Gade, die Oos-Kaapse LUR vir Onderwys. Die privaatvervolgingseenheid sê hy bly van mening dat politieke status of invloed niemand teen strafregtelike vervolging behoort te beskerm nie.