MPUMALANGA. – ‘n Verdagte wat Saterdag omstreeks 00:45 tydens ‘n skietery met veldwagters in die Satara-gebied van die Krugerwildtuin gewond is, het later aan sy beserings beswyk. ‘n 31-jarige Mosambiekse burger is vir die beweerde besit van van ’n ongemagtigde vuurwapen en ammunisie, asook vir oortreding van die park se grense, in hegtenis geneem.
Lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits volgens inligting was veldwagters naby die Ngotso-dam op patrollie toe hulle op drie verdagtes, van wie een gewapen was, afgekom het. Die ander twee het rugsakke gedra. Toe die wagters hulle beveel om te stop, het die gewapende verdagte glo die vuurwapen op die wagters gerig en geskiet, waarop die wagters teruggeskiet het. Twee verdagtes is ernstig gewond en een het later aan sy beserings beswyk. Die derde verdagte het van die toneel gevlug. Nooddienste, insluitend mediese personeel van Skukuza, is ontbied. Die oorlewende verdagte is na ’n hospitaal geneem waar hy onder polisiebewaking bly.
Die polisie het op ‘n jaggeweer, vyf lewendige patrone, ‘n byl, ‘n mes en twee selfone beslag gelê. Die verdagtes is vermoedelik onwettige immigrante van Mosambiek. ’n Saak met aanklagte van die besit van ’n ongemagtigde vuurwapen en ammunisie, oortreding van die park se regulasies en poging tot moord is geopen.
Die derde verdagte is steeds soek. Die gearresteerde verdagte sal in die hof voorkom sodra hy uit die hospitaal ontslaan word. Verdere aanklagte kan moontlik nog bygevoeg word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





