Student op verjaardag doodgesteek, vier verdagtes in hegtenis

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – ‘n Student (19) van Universiteit Stellenbosch is Woensdagoggend vroeg, op sy verjaardag, terwyl hy met sy fiets in Borcherdstraat in Stellenbosch huis toe gery het, oorval en in die nek gesteek. Hy het aan die steekwond beswyk. Vier verdagtes is intussen gearresteer.

Lt.kol. Malcolm Pojie sê aan Nuusflits die insident het omstreeks 03:00 gebeur en die student is van sy persoonlike besittings beroof.

Een van die verdagtes (19) is Woensdag, binne ure ná die aanval, in hegtenis geneem en sal vandag vir die eerste keer in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.

Donderdag is drie verdagtes, mans, onderskeidelik 29 en 28 jaar, en ‘n vrou van 31, in Cloetesville, Stellenbosch in hegtenis geneem. Die drie verdagtes sal eers aangekla word alvorens hulle in die hof sal voorkom.

Lt.genl. (adv.) Thembisile Patekile het die Stellenbosch-polisie, misdaadintelligensie en speurders wat die inhegtenisnemings gemaak het, geprys.

Martin Viljoen van die Universiteit Stellenbosch sê daar is met skok en hartseer van die student se dood as gevolg van ‘n steekwond verneem.

“Die motief vir die aanval wat buite die kampus in Stellenbosch plaasgevind het, vorm deel van ‘n ondersoek deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens.”

Viljoen het voorts gesê die universiteit sal die polisie met die ondersoek ondersteun.

“Die verlies van ‘n kosbare jong lewe, veral onder sulke tragiese omstandighede, kom altyd as ‘n groot skok vir die universiteitsgemeenskap. Ons gedagtes is by die familie, vriende en klasmaats in hierdie uiters moeilike oomblik van verlies. Ons wens hulle alle sterkte toe in hierdie moeilike tydperk van rou en wil graag hê hulle moet weet dat hulle die ondersteuning van die US-gemeenskap het,” sê prof. Deresh Ramjugernath, adjunk-visekanselier: Leer en Onderrig.

Viljoen sê prof. Ramjugernath was met die oorledene se familie in kontak. Daar word ook gevra die oorledene se familie en vriende moet ruimte en tyd gegun word om deur hulle tragiese en pylike verlies te werk.

“Studente wat berading benodig, word aangemoedig om die universiteit se 24-uur-krisisdiens by 010 2053032 na-ure en 021808 4994 tydens kantoorure te kontak.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief