Brekende Nuus
Nuus

Suliman Carrim kry R100 000 borg ná beweerde versuim om voor Madlanga-kommissie te verskyn

Foto: NVG

GAUTENG. – Suliman Carrim is onder streng voorwaardes R100 000 borgtog toegestaan, nadat hy na bewering versuim het om voor die Madlanga-kommissie van ondersoek te verskyn. Die Pretoriase landdroshof het Woensdag 28 Oktober sy borgtogaansoek toegestaan. Carrim staan tereg op ’n aanklag dat hy artikel 6(1) van die Kommissiewet 8 van 1947 oortree het deur nie voor die kommissie te verskyn nie.

Lumka Mahanjana, NVG-streekwoordvoerder, sê Carrim is gewaarsku om op 14 Augustus voor die kommissie te verskyn, maar het nie opgedaag nie. ’n Strafsaak is daarna geregistreer en deur die kommissie se aanbevelingstaakspan ondersoek. Carrim is op 15 Oktober by die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem, kort voordat hy na bewering ’n internasionale vlug sou haal. 

Die staat het Carrim se borgtogaansoek teengestaan en aangevoer dat hy moontlik die verhoor sal ontduik en ’n vlugrisiko is omdat hy by die lughawe in hegtenis geneem is.

Die borgtogvoorwaardes bepaal onder meer dat Carrim sy paspoort aan die ondersoekbeampte moet oorhandig en nie sonder die hof se skriftelike toestemming Suid-Afrika mag verlaat of ’n plaasvervangende paspoort mag bekom nie. Hy moet op sy geverifieerde woonadres in Mafikeng bly, mag nie sonder toestemming buite die Mafikeng-landdrosdistrik reis nie en moet elke Maandag tussen 06:00 en 09:00 by die Mmabatho-polisiestasie aanmeld. Hy moet ook binne 48 uur ná sy vrylating by die kommissie aanmeld om reëlings vir sy volgende verskyning te tref.

Volgens Mahanjana is die saak tot 8 Desember uitgestel vir die bekendmaking van die dossier aan die verdediging. Die hof kan optree indien Carrim die borgtogvoorwaardes oortree, wat onder meer ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming en moontlike aanhouding kan insluit.