GAUTENG. – Lindiwe Machaka (39), en Zanele Machaka (37), twee susters, verskyn vandag weer op aanklagte in die Atteridgeville-landdroshof. Die vroue is in hegtenis geneem nadat vyf kinders, onderskeidelik 1, 2, 4, 5 en 6 jaar, doodgebrand het.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Lindiwe was die ouma van die twee jongste kinders, terwyl Zanele die res van die kinders se ma was. Op 27 Augustus 2023 het die beskuldigdes van Itireleng- informele nedersetting naby Laudium na bewering die vyf kinders in hulle shack toegesluit en na ‘n nabygeleë kroeg gegaan. Die shack het aan die brand geraak en al die kinders het doodgebrand.
Die twee vroue is dieselfde dag by die kroeg in hegtenis geneem en was sedertdien in aanhouding. Hulle het tydens ‘n vlugtige hofverskyning gevra om op borg van R500 vrygelaat te word, maar die landdros het weens die ernstige aard van die misdaad te kenne gegee dat sy van plan is om hulle borg van R5 000 toe te staan. Die regsverteenwoordiger vir die twee beskuldigdes het aangevoer die beskuldigdes kan nie die bedrag betaal nie. Tydens die hofverskyning op 12 September 2023 is die saak vir drie dae uitgestel sodat ‘n verslag van die departement van korrektiewe dienste bekom kan word om te sien of die susters geskik is vir korrektiewe toesig nadat borg toegestaan is.
Die saak kom vandag weer in die Atteridgeville-hof voor waar die susters op vyf aanklagte van strafbare manslag en kindermishandeling teregstaan.





