GAUTENG. – Altesaam 264 onpadwaardige minibustaxi’s, wat in Soshanguve gebruik word, is Vrydagoggend vir inspeksie van paaie verwyder. 18 minibustaxi’s is geskut en een bestuurder is gearresteer.
Die padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) sê in ‘n verklaring wetstoepassingsowerhede het tydens die operasie talle minibustaxi’s wat vermoedelik onpadwaardig en sommige vermoedelik gesteel, sonder behoorlike permitte, insluitend openbare bestuurspermitte en sonder rybewyse bestuur word, geïdentifiseer.
Die 264 minibustaxi’s is vir defekte en nakoming van padregulasies geïnspekteer. Verskeie boetes is vir onder meer beskadigde voorruite, vervalde lisensieskyfies, bestuur sonder ‘n wettige rybewys en permitte, asook die bestuur op openbare paaie sonder ‘n professionele bestuurspermit, uitgereik.
‘n Verdere 18 minibustaxi’s is vir verdere gebreke geskut en ‘n bestuurder is vir die besit van bedrieglike dokumente gearresteer.
Die padverkeersbestuurskorporasie sê soortgelyke operasies sal gedurende die feestyd verskerp word, sodat veiligheid op die paaie verseker en lewens gered kan word.





