WES-KAAP. – Pogings is aan die gang om ’n taxibestuurder op te spoor wat roekeloos en nalatig bestuur het terwyl hy vir owerhede weggejaag en teen twee verkeerspatrollievoertuie gebots het.
JP Smith, DA burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê in ‘n sosialemediaplasing ‘n verkeersbeampte het probeer om die voertuig in Koebergweg tot stilstand te bring, maar die bestuurder het na die N1 weggejaag. Die beampte het hulp gevra. In die poging om weg te kom, het die taxibestuurder met die minibus teen twee verkeerspatrollievoertuie op die N7 naby Potsdamweg gebots. Die bestuurder het uit die voertuig gespring en weggehardloop. Agt passasiers het ligte beserings opgedoen. Vier verkeersbeamptes het ook ligte beserings opgedoen.
Smith sê die Stad veroordeel die optrede van die bestuurder. “Sy minagting van wet en orde sal nie geduld word nie,” sê hy. Beamptes het die eienaar van die voertuig opgespoor en werk daaraan om die bestuurder te vind. Daar is op die minibustaxi beslag gelê en dit sal nie teruggegee word voordat die verdagte gevang is nie.





