OOS-KAAP. – Altesaam 208 beeste en ander vee, asook onwettige vuurwapens, wat in die Sulenkama-gebiede gesteel is, is deur die polisie tydens ‘n operasie van 12 tot 14 Februarie teruggekry.
Kapt. Welile Matyolo sê die operasie om veediefstal hok te slaan, het onder die leiding van die eenhede vir veediefstal en bedreigde spesies plaasgevind. Sigbare polisiëring, die berede-eenheid en honde-eenheid het die operasie ondersteun. Dit sluit ook polisiebeamptes van Alfred Nzo-, Joe Gqabi- en OR Tambo-distrikte in. Daar is gewerk om gesteelde vee terug te kry, brandmerkwette af te dwing en onwettig vuurwapens op te spoor.
Drie verdagtes is in hegtenis geneem, waarvan die een vir aanranding met die doel om ernstig te beseer in Qumbu gesoek word. Boonop is 14 vee-eienaars boetes van R4 250 opgelê, aangesien hulle vee nie gebrandmerk is nie.
Motyolo sê altesaam is 208 beeste ter waarde van R2.8 m., skape (15) ter waarde van R22 500, bokke (25) ter waarde van R25 500, asook twee ongelisensieerde 9 mm-pistole, 46 x 9 mm-rondtes en 78, 850 liter drank is teruggekry en gekonfiskeer.
Die berede eenheid het gehelp om vee uit berggebiede te kry. Vee-eienaars wat onder diewe deurgeloop het, word gevra om die munisipale skut te besoek om vee te identifiseer en terug te kry.







