OOS-KAAP. – Micah Klaasen (16) is Saterdagaand omstreeks 23:00 tydens ‘n aanval in Mimosastraat, Fairview, dood. Die Walmer-polisie ondersoek sy moord. Intussen is ‘n opgtog en ‘n gedenkrit vir geregtigheid beplan.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring polisiebeamptes is na die toneel ontbied waar vasgestel is dat die tiener glo deur ’n groep van sowat ses tot tien onbekende aanvallers aangerand is. Hy is op die toneel dood verklaar. Omstandighede rondom die voorval word deur die polisie ondersoek, alhoewel die motief vir die aanval nog onbekend is. Die polisie het geweldsoptrede, veral teen die jeug, ten sterkste veroordeel en sê hulle sal alles moontlik doen om die skuldiges voor die gereg te bring.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om lt.kol. Estelle Edwards by 079 520 3256 te bel.
Anver Killian het die volgende sosialemediaplasing oor sy vriend gemaak (uit Engels vertaal): Gisteraand het ons nóg ’n jong siel verloor – my vriend Micah. Hy is te vroeg van ons weggeneem, koelbloedig vermoor. Micah was nie ’n bendelid nie. Hy was jonk, vol lewe en drome, net soos ek en jy. Net ’n week tevore het ’n ander seun sy lewe verloor toe hy deur ’n motor omgery is. Hoeveel name moet ons nog noem voordat iets verander? As ’n jong man uit hierdie gemeenskap staan ek nou op. Ek is moeg om te sien hoe ons jeug vir niks sterf nie. Ek is moeg vir ma’s wat huil en gesinne wat uitmekaar skeur. Ek gee nie om wie dit sien nie – selfs as dié wat verantwoordelik is, kyk – want die waarheid moet gesê word. Ons verdien veiligheid. Ons verdien vrede. Ons verdien ’n toekoms. Hierdie boodskap is nie net vir Micah of die seun van verlede week nie – dis vir almal wat moeg is om in vrees te leef. Ons, die jeug, is nie die probleem nie. Ons is die toekoms. En as niemand anders vir ons gaan praat nie, dan sal ek. Genoeg is genoeg. #geregtigheidvirMicah
Killian het die plasing opgevolg met die aankondiging van ‘n gemeenskapsoptog wat op 8 Oktober, vanaf 10:00 tot 17:00, vanaf Cleary Park Mall na Stanfordstraat na die Windvogel-terminus vanaf 10:00 tot 17:00 af sal plaasvind. Hy sê daar word vir geregtigheid, vrede en vir elke jong lewe wat te vroeg weggeneem is, gestap. Die gemeenskapstaptog sal deur Killian self en Flaurencia Matroos gelei word. Die opgtog sal Sondag deur ‘n gedenkverbyrit gevolg word.

