Brekende Nuus
Nuus

Tiener oorleef val van brug af

Foto: IPSS Medical Rescue

KWAZULU-NATAL. – ’n 16-jarige meisie het kritieke beserings opgedoen nadat sy Sondag van ’n brug oor ’n rivier in die omgewing van Scottburgh geval het. Die voorval het by een van die brûe langs die R102 plaasgevind.’n Onbekende persoon het haar na bewering uit die rivier gehaal en daarna die toneel verlaat.

Kelsey-Jae Meyrick van IPSS Medical Rescue sê Scottburgh se lewensredders het die meisie van die rivieroewer af gedra, waarna ’n paramedikus van IPSS Medical Rescue se gevorderde lewensondersteuningspan haar gestabiliseer het. Die meisie is daarna vir verdere behandeling na ’n hospitaal vervoer.

Meyrick sê die polisie ondersoek die omstandighede waaronder sy van die brug geval het. Dit is nog nie bekend hoe die voorval gebeur het of wie die persoon is wat haar na bewering uit die rivier gehaal het nie.