MPUMALANGA. – ’n 16-jarige meisie wat glo deur ’n skoolseun geboelie en mishandel is, het glo Donderdag selfdood gepleeg. Die tragedie het later tot ’n gewelddadige konfrontasie tussen familielede gelei, waartydens ‘n raadslid na bewering geskiet en twee mense beseer is. Hy is op aanklag van poging tot moord in aanhouding.
Sers. Thulisile Magagula en lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerders, sê in ‘n verklaring volgens inligting het die meisie se pa glo agtergekom dat sy emosioneel gesukkel en gereeld gehuil het. Toe hy haar daarmee konfronteer, het sy onthul dat ’n seun van haar skool haar oor ’n tydperk geboelie en mishandel het.
Die vader het haar na die seun se huis geneem om hom uit te wys, maar hy was nie daar nie. Hulle is daarna terug huis toe. Kort daarna het die pa sy dogter dood aangetref. Hy het die tou wat sy glo gebruik het om haarself te hang, losgesny en met haar na ‘n kliniek gehaas, maar sy is dood verklaar.
Omstreeks 19:30 het familielede van sy oorlede vrou by die huis opgedaag en hom gekonfronteer oor waarom hulle nie onmiddellik oor die tragedie ingelig is nie. Die emosies het hoog geloop en ’n argument het ontstaan. Tydens die rusie het ’n raadslid (34), bekend aan die familie, glo ’n vuurwapen uitgetrek en ’n skoot geskiet. Die koeël het die pa van die oorledene en ’n buurman, wat die geveg probeer stopsit het, skrams getref. Beide mans is vir behandeling na ’n hospitaal geneem.
Twee sake van poging tot moord is by die Pienaar-polisiekantoor oopgemaak. Die raadslid is Vrydag in hegtenis geneem en verskyn vandag (Maandag) in die Kanyamazane- periodieke hof.





