KWAZULU-NATAL. – ’n Tienerseun (15) is Sondagmiddag dood nadat hy in Ndwedwe tussen ‘n minibustaxi en ‘n muur vasgekeer is.
Reaction Unit South Africa (Rusa) is deur omstanders vir mediese bystand ontbied. Met aankoms op die toneel het Rusa-paramedici die tiener ondersoek en bevind dat hy reeds oorlede is voordat hulp kon opdaag. Die bestuurder van ’n wit Toyota Quantum het aan die beamptes gesê hy het agter ’n ander voertuig gery toe daardie voertuig glo skielik gerem het. Hy het probeer uitswaai om ’n botsing te vermy en die jong voetganger aan die oorkant van die pad getref. Die seun is oor ’n paar meter gesleep voordat die voertuig in ’n muur vasgery het.
Volgens die oorledene se familie het hy pas van die huis af vertrek op pad na vriende toe.





