GAUTENG. – ’n Tienerseun (16) is vroeër vandeesweek vir die onwettige besit en verspreiding van springstof in Roodepoort in hegtenis geneem.
Volgens nasionale polisiewoordvoerder, lt.kol. Amanda van Wyk, het lede van die nasionale intervensie-eenheid (NIU) en Gauteng-misdaadintelligensie inligting oor die beweerde verkoop van springstof in en om Motlhakeng ontvang. Die tienerseun is by ’n huis in Roodepoort aangekeer, waar 50 springstofpatrone, 25 lontverbindings en ander soortgelyke items in beslag geneem is.
Ondersoeke duur voort om die kriminele netwerk agter die onwettige verspreiding van plofstof te identifiseer. Plofstof word dikwels gebruik in ernstige misdade soos geld-in-transito-rooftogte en onwettige mynbedrywighede.





