KWAZULU-NATAL. – Kinders wat met ‘n Tik-Tok-neiging hulle ouers vir die grap bel en sodoende onnodige noodreaksies ontlok, wek kommer omdat dit onder andere veiligheidsmaatskappye se hulpbronne mors.
Blue Security-Durban sê in ‘n sosialemediaplasing dié diens het onlangs op twee onnodige oproepe op een dag reageer, nadat kinders hulle ouers geterg het deur te sê daar is indringers op hulle eiendom. Volgens die veiligheidsmaatskappy veroorsaak hierdie vals alarms nie net paniek en plaas ouers onnodig onder stres en vrees nie, maar dit lei ook noodhulpbeamptes weg van werklike noodgevalle.
“Elke minuut wat aan ‘n vals oproep bestee word, kan ‘n minuut wees wat verlore gaan wanneer iemand regtig hulp nodig het,” sê die woordvoerder. Daar word ‘n beroep op alle ouers en voogde gedoen om ‘n oop gesprek met hul kinders te voer oor die erns van sulke tipe optrede. Wat aanlyn soos ‘n onskuldige grap mag lyk, kan regte gevolge in die werklikheid hê, insluitend die vermorsing van hulpbronne, die verspreiding van vrees en die risiko van stadiger reaksies op werklike bedreigings.
Die diens vra samewerking om gemeenskappe veilig, rustig en ingelig te hou.





