KWAZULU-NATAL. – Die strafsaak teen sewe voormalige Tongaat Hulett-bestuurders oor beweerde bedrog van sowat R3,5 miljard is tot 18 Maart 2027 uitgestel.
Die NVG-woordvoerder, Natasha Ramkisson-Kara, sê die beskuldigdes het in die Durbanse hooggeregshof voorgekom. Die staat het om uitstel gevra om ’n nuwe sertifikaat vir ’n rampokkery-aanklag teen Gavin Dykes Kruger aan te vra. ’n Paneel sal die aansoek van 6 tot 9 Oktober 2026 oorweeg.
Peter Staude, Murray Hector Munro, Michael Edward Deighton, Rory Edward Wilkinson, Kamasagrie Singh, Samantha Shukla en Kruger staan tereg op aanklagte van bedrog en die oortreding van die Wet op Finansiële Markte, die Maatskappywet en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad. Kruger staan ook tereg op ’n aanklag ingevolge die die Wet op Ouditprofessies. Die staat beweer die beskuldigdes het tussen Maart 2015 en September 2018 saamgespan om Tongaat Hulett, werknemers, krediteure en aandeelhouers te mislei oor inkomste uit grondverkope. Daar word beweer dat verkoopooreenkomste teruggedateer is, wat tot verkeerde winsverklarings en aansienlike bonusse vir bestuurders gelei het.
Die sewe het in Februarie 2022 in die Durbanse gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn en is elk op R30 000 borgtog vrygelaat. Hierdie saak spruit uit ’n groter rekeningkundige skandaal wat in 2019 aan die lig gekom het ná ’n PwC-ondersoek. Die beskuldigdes bly op borgtog en is nog nie skuldig bevind nie.