OOS-KAAP. – ‘n Pa (51), ‘n topregeringsamptenaar, en sy seun (22) is Vrydagmiddag ná 16:00 naby Decoligny R61 vir die beweerde besit van 38 vermoedelik gesteelde skape in hegtenis geneem.
Kapt. Welile Matyolo, polisiewoordvoerder, sê die OR Tambo-veediefstal-voorkomingstaakspan het inligting ontvang van skape wat na Tabankulu vervoer word, nadat dit glo Donderdag op Tabatse gesteel is. Hulle het die Toyota Hilux-bakkie met ’n sleepwa voorgekeer, waarna die 38 skape gevind is. Die regmatige eienaar het die skape geïdentifiseer.
Die verdagtes sal vandag op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde skape in die Mthatha-landdroshof verskyn. Die ondersoek duur voort.





