Tot jou geliefdes sal jou haat as jy dit aan hulle doen

Lees ook :

My buurman het ‘n baie interessante beginsel wat hy op sy kinders toepas. Soggens voordat hy werk toe gaan, vra hy vir elkeen watse produktiewe aktiwiteit hulle vir die dag gaan aanpak voordat hy vanaand terugkom. As een met ‘n goeie voorstel kom, dan is dit sy of haar werkie vir die dag. Vir die kind wat nie self met iets vorendag kom nie, gee hy dan ‘n taak, byvoorbeeld om die gras te sny. Die beginsel wat hy sy kinders probeer leer, is dat as jy nie self besluit hoe jy jou tyd deur die dag gaan bestee nie, iemand anders vir jou die besluit gaan maak.

LEES MEER: Opinies sal altyd verskil

Die beginsel van my buurman is natuurlik gemik op ‘n mens se werk of loopbaan. Jy kan óf vir jouself werk, óf jy gaan vir iemand anders werk. As jy die insig het om te kies in watter rigting jy wil beweeg, kan jy nogsteeds gelukkig wees, al werk jy vir iemand anders. Maar ongelukkig werk die meeste mense net om ‘n bestaan te maak, al is hulle ongelukkig en onvervuld.

Ek gebruik nog ‘n voorbeeld om my uiteindelike punt te probeer bewys: As twee mense dieselfde ding begeer, dan is daar ‘n paar opsies wat hulle kan uitoefen. Hulle moet dit deel, dit geheel en al los, of hulle moet kompeteer daarvoor. En wanneer hulle kompeteer, dan forseer die een sy wil op die ander.

Hoekom word oorloë gevoer? Want die een land of koninkryk soek iets wat die ander het, en probeer dit met geweld neem.

Ons almal het ‘n vrye wil om te kies hoe ons die lewe wil lei. Soms word my wil oorheers deur iemand anders, byvoorbeeld my werkgewer, en soms oorheers my wil weer ander. Een ding wat ek wel weet, is dat niemand daarvan hou om iets teen hulle wil te doen nie.

Ek verstaan in werksverband is daar nie altyd ‘n keuse nie, maar in ander aspekte van die lewe moet ons baie versigtig wees. Geen mens het die reg om ‘n ander se lewe te dikteer nie. Jy kan nie vir my sê wat ek moet glo, eet of doen in my vrye tyd nie. Nie eens ‘n man vir sy vrou, of andersom nie. Die enigste toelaatbare geval is van toepassing op jou kinders, binne grense natuurlik.

Jy kan dalk ‘n sterk persoonlikheid en wil hê en ander mense manipuleer om jou sin te kry, maar al doen jy dit met ‘n goeie gewete en in opregtheid van hart, gaan die resultaat nogsteeds dieselfde bly: jy sal verag of selfs gehaat word deur daai persone.

Luister mooi vriende, eggenote, broers en susters, jy kan nie iemand anders se lewe probeer beheer nie! Al is jy hoe lief vir hulle, jy sal gehaat word daarvoor en nie verstaan hoekom daar so teenoor jou opgetree word nie.

Dus: bewaar eerder die vrede, fokus op jou eie lewe, haal die balk uit jou eie oog en ervaar en veroorsaak sodoende soveel minder struweling. Mag ons almal bly leer en groei en beter met ons medemens oor die weg kom.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App