LIMPOPO. – Thabang Letsebe is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy op 6 Oktober 2024 in besit van sommige ledemate van sy 2-jarige kleuterseun betrap is.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die 24-jarige pa het sy biologiese seun vermoor in Shongoane, buite Lephalale, waarna die gemeenskap die polisie ontbied het. Speurders het die verminkte kleuter se liggaam op ‘n bed aangetref, met sommige van sy liggaamsdele in sy pa se besit. Hy is onmiddellik in hegtenis geneem. Die saak het die hele gemeenskap in skok gedompel. AO Tebele Mafokoane van die Villa Nora-speurtak kon borgtog suksesvol teenstaan. Letsebe was tot sy vonnisoplegging in die Polokwane-hooggeregshof in aanhouding.
Mashudu Malabi, die NVG-woordvoerder in Limpopo, sê Letsebe is gevonnis nadat hy en die staat ’n pleit- en vonnis-ooreenkoms ingevolge Artikel 105A aangegaan het. Die vonnis is deur die polisie en die NVG verwelkom.





