KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou (53) wat glo 17 paartjies bedrieg het en geld vir ‘n onthaalarea per elektroniese betaling (EFT), ontvang het, is vanoggend (Dinsdag) gearresteer.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die diens het die vrou van Shallcross vasgetrek. Sy het glo ‘n onthaalarea in Botha’s Hill, wat nie aan haar behoort nie, vir dieselfde dag, aan verskeie pare uitverhuur. Die troufamilies sou by die onthaalarea opdaag en vind dit is reeds bespreek, maar dit is in ‘n vervalle toestand en het geen water en elektrisiteit nie. Die verdagte het glo geld van niksvermoedende slagoffers geëis nog voordat die onthaalarea gesien kon word.
Rusa sê ‘n paar van Ethekwini het die diens vir hulp genader nadat hulle glo reeds van R26 000 besteel is. Terwyl die insident as waarskuwing gesirkuleer is, is nog 17 oproepe van slagoffers uit verskeie provinsies ontvang. ‘n Speurder van Boksburg-Noord-polisiestasie het Ruasa gekontak nadat twee sake van bedrog in Gauteng aanhangig gemaak is. Die verdagte het glo ‘n motorhandelaar van R200 000 en ‘n paar van R26 000 besteel.
Die verdagte is vanoggend na ‘n kort ondervraging deur Rusa-beamptes gearresteer. Sy het na bewering voorgegee sy is ‘n kriminele prokureur wat uitgevang is omdat sy kliënte se trustfondse besteel het.
“Daar is later vasgestel die verdagte is aan bedrog skuldig bevind en het ‘n kriminele rekord en ‘n geskiedenis van swendelary wat oor 20 jaar strek.”
Rusa bevestig die speurders van Gauteng sal die verdagte vir verdere ondersoek in KwaZulu-Natal gaan haal.