KWAZULU-NATAL. – Siviwe Magugu (37) is deur die Durban-hooggeregshof tot lewenslank en 15 jaar addisioneel gevonnis vir die moord en roof op Rajani Devi Reuban (67) op 9 September 2022.
Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, sê Reuban het by haar seun in die Foresthaven-area in Phoenix gewoon. Magugu het van tyd tot tyd as tuinwerker Vir Reuban se seun gewerk en ook ander klein takies verrig. Op die betrokke dag het Magugu Reuban verwurg en haar besittings gesteel. Hy het daarna van die toneel gevlug, maar is met behulp van informante en Reuban se familielede deur die polisie in hegtenis geneem.
In slagofferimpakverklarings het Reuban se seuns van hul trauma na hulle ma se dood gepraat en hoe hulle lewens drasties verander het omdat hulle ma die hartklop van hulle familie was.
Magugu is lewenslank vir die moord gevonnis en vir die roof met verswarende omstandighede ‘n bykomende 15 jaar. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word. Magugu is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.





