MPUMALANGA. – Twee mense is Maandag in afsonderlike gevalle in Barberton dood toe die gemeenskap reg in eie hande geneem en hulle aan die brand gesteek het. Die oorledenes is blykbaar deur gemeenskapslede van ‘n reeks huisrooftogte in die gebied verdink.
Lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder, sê luidens ‘n verklaring van sers. Thulisile Magagula het die polisie omstreeks 11:45 inligting oor ’n voorval van gemeenskapsgeregtigheid in Uitbreiding 10 (Koperi), Barberton, ontvang. Met hulle aankoms het beamptes die liggaam van ’n persoon ontdek wat glo aangerand en daarna met motorbande aan die brand gesteek is. Kort daarna, omstreeks 12:20, is die polisie na ’n tweede soortgelyke voorval by die Uitbreiding 13-sportgrond ontbied waar nog ’n persoon verbrand gevind is. Tot dusver is niemand in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie en die polisie se ondersoeke duur voort.
Genl.maj. Zeph Mkhwanazi, provinsiale polisiekommissaris, het die voorvalle sterk veroordeel. Hy het ‘n beroep op kalmte in die gemeenskap gedoen en inwoners ernstig gewaarsku om nie die reg in eie hande te neem nie. “Niemand kan ’n verkeerde daad regstel deur nog een te pleeg nie. Mense moet binne die raamwerk van die reg optree. Anargie kan nooit aanvaar word nie en ons doen ’n beroep op ons gemeenskappe om saam met die polisie deur die regmatige strukture soos die Gemeenskapspolisieforum (GPF) te werk en misdaad by die owerhede aan te meld.”
Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê in ‘n verklaring Jackie Macie, die LUR, sê die daad van gemeenskapsreg is misdaad, en diegene wat dit pleeg, moet as misdadigers behandel word. Volgens Macie word gemeenskapsbetrokkenheid in die stryd teen misdaad altyd deur die regering aangemoedig, maar gemeenskapsgeregtigheid (mob justice) sal nooit aanvaar word nie. Die LUR veroordeel die gevalle en het die gemeenskap gemaan om kalm te bly terwyl die polisie hulle ondersoek oor die voorvalle voortsit.