GAUTENG. – Twee sakemanne is Maandag binne ure deur die polisie se teen-ontvoeringstaakspan en ander rolspelers gered nadat hulle in Midrand ontvoer is.
Brig. Athlenda Mathe sê die sakemanne is deur ‘n groep misdadigers in ‘n grys- of silwerkleurige Hyundai i10 van ‘n huurmotormaatskappy in hulle Range Rover gekaap en ontvoer. Die mans is daarna in bosse langs die R21-pad gehou waar hulle gedwing was om hulle bankkaarte en PIN’s aan die verdagtes te oorhandig. Groot bedrae geld is uit beide se bankrekenings onttrek.
Mathe sê ‘n multidissiplinêre taakspan is dadelik gemobiliseer, waarna die slagoffers in digte bosse aangetref is. Die gekaapte voertuig is later in Tembisa teruggevind. ‘n Soektog is steeds aan die gang om die verdagtes op te spoor en enigiemand met inligting word gevra om na vore te kom.
“Die SAPD wil graag die publiek verseker dat hy oor die nodige kundigheid beskik om slagoffers van ontvoerings te red en versoek vriende, familie en omstanders om onmiddellik die SAPD te waarsku wanneer hulle bewus word van enige misdaad, insluitend ‘n aktiewe ontvoering. Ons moedig ook die publiek aan om meer waaksaam en bedag op hul omgewing te wees en enige verdagte aktiwiteite aan te meld.”
Mathe sê nasionale misdaadintelligensie, polisie-nooddienste, die blitspatrollie, Gauteng se verkeerspolisie-lugvleuel en Vision Tactical-veiligheidsmaatskappy, wat by die redding betrokke was, word geprys.
Volgens Vision Tactical is die slagoffers uit ‘n sloot in digte bosse gered en die verdagtes het in nabygeleë myngate ingevlug. Beide die slagoffers is vir mediese behandeling geneem. Die toneel is aan owerhede oorhandig.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com