GAUTENG. – Twee vermeende onwettige mynwerkers is vroeg Sondagoggend dood nadat ’n skietery met lede van die polisie se nasionale intervensie-eenheid (NIU) tydens ’n intelligensiegedrewe operasie uitgebreek het.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê inligting is ontvang oor ’n groep onwettige mynwerkers wat glo in besit was van ’n groot hoeveelheid ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, waarna die operasie omstreeks 04:00 van stapel gestuur is. Met hul aankoms by die geteikende woning het beamptes glo gesien hoe verskeie verdagtes deur vensters probeer ontsnap.
Volgens die polisie het die mans onmiddellik op polisielede geskiet, waarna beamptes teruggeskiet het. ’n Intense skietgeveg van byna twee uur het gevolg. Twee van die verdagtes is op die toneel dood verklaar. Tydens die operasie is daar op twee AK47-aanvalsgewere, twee pistole en ammunisie beslag gelê. Die oorledenes is volgens die polisie Basotho-burgers en was as uiters gevaarlik beskou. Intussen duur operasies in die gebied voort om ander verdagtes wat die bosse ingevlug het, op te spoor.
Geen polisielid is tydens die skietery beseer nie.





