Waarskuwing. Foto’s in berig nie vir sensitiewe lesers nie.
KWAZULU-NATAL.- Twee persone is onderskeidelik Vrydag en Saterdag tydens twee insidente van huisrowe geskiet. ‘n Man (44) wat Vrydag in Zwelisha geskiet is, het aan sy wonde beswyk.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê dié diens is Vrydag omstreeks 22:30 na ‘n toneel ontbied waar die polisie en paramedici van ‘n provinsiale ambulansdiens reeds teenwoordig was. Daar is vasgestel twee verdagtes het glo navraag oor die herstel van ‘n versterker (amplifier) gedoen, waarna nog twee gewapende verdagtes opgedaag en die oorledene in sy kop, nek, bors en laerug geskiet is. Verdagtes het met drie gesteelde selfone van die toneel gevlug. Die slagoffer het op die toneel gesterf.
Tydens ‘n tweede insident is ‘n man (26) Saterdag in Mhlasini verskeie keer tydens ‘n huisroof geskiet. Rusa is omstreeks 02:00 na die toneel ontbied. Die man en sy meisie het geslaap, toe twee gewapende verdagtes toegang tot die gehuurde kamer forseer het. Selfone en kontant is geroof, waarna die man in sy been geskiet is. Die verdagtes het gevlug. Die vrou is nie beseer nie, maar die man is deur ‘n privaat ambulansdiens na ‘n hospitaal vervoer.
Rusa sê op beide die tonele is afgevuurde koeëldoppe aangetref en op die tweede toneel ook ‘n 9 mm-rondte.







