LIMPOPO. – Tobias Moyo (51) en Fanie Sergio Makwakwa (31), twee buitelanders, word versoek om by hulle naaste polisiestasie aan te meld.
Volgens kol. Malesela Ledwaba kan hulle moontlik help om ’n reeks misdade, wat op 6 Augustus 2017 op ’n plaas in Groblersdal plaasgevind het, op te los. Die misdade sluit moord, roof met verswarende omstandighede, inbraak, en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in.
“’n Groep mans het die plaaseienaar en sy gesin aangeval,” het Ledwaba gesê. “Die boer is aangerand tot hy dood is, terwyl sy familielede ernstige beserings opgedoen het en na ‘n hospitaal geneem is vir behandeling. Hulle is later ontslaan.”
Herman Botha (64), die plaaseienaar, het tydens die aanval gesterf.
Twee van die verdagtes is later dieselfde maand gearresteer.
“By hulle aanvanklike hofverskyning is borgtog geweier, maar uiteindelik is borgtog toegestaan. Een van die verdagtes het later gesterf, en die tweede verdagte is vrygelaat,” het Ledwaba verduidelik.
Die verdagte is die daaropvolgende jaar tydens ’n ander plaasaanval raakgeskiet en het ook later beswyk.
Die saak is na die Polokwane-hooggeregshof oorgeplaas, waarna die ander twee verdagtes op 23 Augustus 2017 vir ‘n tweede keer in die hof moes verskyn. Hulle het egter nie opgedaag nie. Lasbriewe vir hulle inhegtenisname is uitgereik, maar hulle kon nog nie opgespoor word nie.
Enigiemand wat weer waar die verdagtes op die foto’s hulle bevind, kan lt.kol. Edrick Mukwevho by 082 303 9927 of speur.konst. Isaac Lebyane by 065 907 5141 bel.