OOS-KAAP. – Verdagtes wat na bewering Maandagmiddag onderweg was om ‘n transitoroof te pleeg, is tydens ‘n skietery met die polisie op die N2 buite Tsolo doodgeskiet.
Lt.kol. Siphokazi Mawisa sê die polisie se taktiese reaksie-eenheid (TRT) het inligting opgevolg en op die beweerde rowers op ‘n missie toegeslaan. ‘n Polo Vivo, wat na bewering betrokke is in transitorooftogte in KwaZulu-Natal, het in die rigting van Mthatha gery, waar die polisie dit opgemerk en probeer voorkeer het.
“Toe die voertuig tot stilstand kom, het die verdagtes op die polisie begin skiet en die polisie het teruggeskiet, waartydens twee verdagtes noodlottig beseer is.”
Mawisa sê die polisie het tydens deursoeking van die voertuig ‘n ongelisensieerde pistool en rewolwer, wat in die skietery gebruik is, gekry.
Sake van poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie word ondersoek.
“Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek ‘n geregtelike doodsondersoek.”





