VRYSTAAT. – Twee verdagtes is Saterdag op aanklag van moord in hegtenis geneem nadat ‘n man (52) dood is in ‘n geveg waartydens stokke en knopkieries glo gebruik is.
Sers. Mahlomola Kareli sê die Bethulie-polisie het inligting ontvang van ‘n aanranding wat by bokkrale naby Eaststraat gebeur het. Met aankoms is die oorledene in ‘n plas bloed aangetref en die kraal was gesluit. Die polisielede het nooddienste ontbied. Die verdagtes het opgedaag en die kraalhek oopgesluit.
Voorlopige ondersoek het ontbloot die oorledene en die twee verdagtes het glo met knopkieries en stokke baklei. Nadat die oorledene glo op die kop en in die gesig getref is en wonde opgedoen het, het hy neergeval.
Nooddienste het die slagoffer dood verklaar.
Die verdagtes is in hegtenis geneem en sal vir moord aangehou word, waarna hulle in die Bethulie-landdroshof sal verskyn.





