MPUMALANGA. – Doctor Sobetha (31), wat homself as ‘n prokureur voorgedoen het, word deur die Valke in Secunda en Moroka-speurders gesoek omdat hy hom glo as ‘n prokureur in Bethal-landdroshof voorgedoen en ‘n verdagte verteenwoordig het. ‘n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik.
Kapt. Sekgotodi Dineo, woordvoerder vir die Valke, sê Sobetha is op 24 Maart 2023 in hegtenis geneem terwyl hy Mhlabuyaxega Mntungwa (37) verteenwoordig het. Mntungwa is voorheen gesoek vir die moord op Nkosinathi Emmanuel Ngcongo (34), die voormalige bestuurder van Sam Holdings, wat op 12 September 2019 noodlottig gewond is.
‘n Lasbrief vir Mntungwa se inhegtenisname is gemagtig, waarna hy op 1 Februarie 2023 in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is. Mntungwa is aangekla en het in die Bethal-landdroshof verskyn. Sy saak is tot 24 Maart 2023 uitgestel en hy het in aanhouding gebly. Op die betrokke dag is hy deur Sobetha verteenwoordig. Sekere teenstrydighede is tydens die borgaansoek opgemerk en die hof het ontdek Sobetha het nie kwalifikasies om as ‘n prokureur op te tree nie. Hy is deur die Valke vir die voordoen as ‘n prokureur in hegtenis geneem.
Mntungwa en Sobetha het in aanhouding gebly en die saak is tot 27 Maart 2023 uitgestel waartydens die verdagtes op hul verskeie aanklagte in die hof verskyn het. Die saak is weer tot 23 Mei 2023 uitgestel, waarna Mtungwa in aanhouding gebly het, maar Sobetha is op borg van R5 000 vrygelaat. Sobetha het die hof ontduik en ‘n lasbrief vir sy inhegtenisname is op 13 Februarie 2024 gemagtig.
Genl. maj. Gerber, provinsiale hoof van die Valke, versoek die publiek om te help om Sobetha op te spoor. Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte Thembinkosi Daniel Nkambule by 082 303 9874 bel.





