Die voormalige Protea-netbalspeler en deesdae televisie-aanbieder, Vanes-Mari du Toit, gaan vanaf môre op ’n ekspedisie na die hoogste meer ter wêreld, op die Himalajas, om ’n wêreldrekord te breek.
Sy en nog sewe mense gaan probeer om die rekord vir swem in yswater op die hoogste plek bo seespieël te breek. Die hoogste meer op die bergpiek, Putha Hiunchuli, is deur die plaaslike Nepalese Sjerpas ontdek. Dit is 6 400 m bo seespieël.
Hulle doel met die uitdaging is om bewustheid vir klimaatsverandering te bring. Hulle gaan ook geld insamel vir liefdadigheid en kinders wat deur klimaatsrampe geraak word.
Volgens Du Toit se Instagram-blad sluit hulle span swemmers, mediese personeel en kamerapersoneel in. Die tog sal ongeveer 16 tot 18 dae duur.
Bron: Vanes-Mari du Toit Instagram





