VRYSTAAT. – ‘n Verdagte (29) is Saterdag in Bloemfontein in hegtenis geneem nadat hy glo met ’n menslike kopbeen aangetref is. ‘n Liggaam sonder ‘n kop is daarna in ’n stroom naby die N8 gevind.
Luidens ‘n verklaring van polisiewoordvoerder, lt.kol. Thabo Covane, is Thabure, Parkweg-polisiebeamptes omstreeks 15:00 na ‘n stormwaterdreineringskanaal onder die Central Park-kompleks ontbied. ‘n Man was glo gesien met ‘n voorwerp wat soos ‘n menslike kopbeen lyk. Met hulle aankoms is die verdagte naak met die kopbeen in sy hande in die stroom aangetref. Hy is onmiddellik in hegtenis geneem.
Verdere inligting van ‘n man wat glo ‘n ander persoon laer in die stroom aangeval het, is ondersoek. Die ondersoek het na ‘n groot klip met beenfragmente en breinweefsel daaro gelei. Met ‘n verdere soektog by die stroom, langs die N8 naby Nathanstraat in die Old East End, is ‘n onthoofde liggaam opgespoor. Dit was nie ver van waar die ander bewyse gevind is nie.
Covane sê tydens inhegtenisneming het die verdagte glo gesê hy moes die slagoffer doodmaak om te bewys dat hy die messias is.
Die polisie het bevestig dat ’n saak van moord, met ’n bykomende klag van lykskending, by die Heidedal-polisiestasie geopen is. Die verdagte sal binnekort in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.





