GAUTENG. – Olorato Mongale (30) se liggaam is by Lombardy-Wes gevind nadat sy glo Sondag op ‘n afspraak gegaan het met ‘n man genaamd “John” wat deur die polisie gesoek word. Die verdagte het ‘n wit VW Polo gery, met ‘n vervalste nommerplaat LT 57 JG GP, wat oorspronklik aan ‘n Toyota Hilux behoort het.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die verdagte het Mongale omstreeks 15:00 by haar woonstelkompleks in Athol, in Johannesburg, opgelaai. Die voertuig is later eers in Alexandra en daarna in Kew gesien, voordat haar liggaam kort voor 17:00 leweloos aangetref is. Mongale se selfoon en handsak is op 9de Laan in Kew aangetref.
Mathe sê polisiespeurders ondersoek of nog ‘n man saam met die verdagte by die voorval betrokke was. Daar word ook gekyk na ‘n moontlike verband met ‘n soortgelyke saak waar die liggaam van ‘n 39-jarige vrou op 8 Mei in Catherinestraat in Sandown, Sandton, gevind is.
Verlede week het die polisie ‘n 24-jarige verdagte man in hegtenis geneem wat na bewering vroue met ‘n vals profiel via Facebook gelok het. Hy is van ontvoering en verkragting aangekla nadat hy ‘n 28-jarige vrou onder valse voorwendsels na Limpopo gelok en herhaaldelik verkrag het.
Vroue word versoek om waaksaam te wees, hul bewegings met geliefdes te deel en afsprake slegs in openbare ruimtes te hou. Enigiemand wat die genoemde voertuig opmerk of oor enige inligting beskik, word gevra om na vore te kom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





