WES-KAAP. – Die verdagte (17) in die moord op Deveney Nel, wat op 7 Augustus by Hoërskool Overberg vermoor is, het weer vandag in die Caledon-landdroshof voorgekom.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die moordsaak is vir verdere ondersoek tot 25 Oktober uitgestel.
Nuusflits het voorheen berig die saak was tot vandag uitgestel vir ‘n ondersoek, wat onder andere die analisering van ‘n selfoon en rekenaar behels het.
Nel, ‘n gr. 10-leerder, het die betrokke dag van haar moord op 7 Augustus, nie ná haar skool se sportwedstryde vir haar geleentheid huis toe opgedaag nie. Sy is as vermis aangemeld, waarna haar liggaam die betrokke Woensdag op die skoolperseel in ‘n stoorkamer gevind is. Die skool was die volgende dag as ‘n aktiewe misdaadtoneel gesluit.
Johan Jacobs, die skoolhoof, het daarna aan Nuusflits gesê dit is ‘n tydperk van rou en hartseer, maar ook van bou en herstel.
Na ‘n behoorlike ondersoek het speurders die Vrydagaand na die moord ‘n 17-jarige verdagte in hegtenis geneem en vir haar moord aangekla. Die minderjarige verdagte het die daaropvolgende Maandag in die Caledon-landdroshof verskyn, waar die saak uitgestel is. Hy is daarna by ‘n kinder-en-jeugsorgsentrum, aangehou.
Die onderwysdepartement in die provinsie het gesê sielkundiges en maatskaplike werkers staan die leerders van die skool en die gemeenskap by. David Maynier, Wes-Kaapse minister van onderwys, het gesê daar is kontak met Anroux Marais, die provinsiale minister van polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, wat gesê het die polisie-ondersoek sal gemonitor word.
Nel se moord het nog skaars by haar familie, vriende en skool ingesink toe ‘n tweede skok oor die beweerde verdagte se verlede aan die lig gekom het.
Lt.kol. Malcolm Pojie het aan Nuusflits gesê ‘n voorval waarna die verdagte (toe 13 jaar oud), wat tans in ‘n plek van veiligheid is, ook van die verkragting van ‘n minderjarige beskuldig is, het in die Saxon- informele nedersetting op Albertinia gebeur.
“Op 31 Desember 2020 tussen 19:30 en 20:00 is ’n verkragtingsaak deur die Mosselbaai-GKS geopen en ondersoek.”
Pojie sê beide die slagoffer en verdagte was tydens die insident minderjarig. Die verdagte het in die hof verskyn en is vir psigiatriese waarneming gestuur, waarna die saak teen hom teruggetrek is.
“Die saakdossier is op 26 Junie 2023 van die hof terugontvang.”
“Neem kennis dat die name van die betrokkenes nie bekend gemaak sal word nie, aangesien hulle minderjarig is en as gevolg van wetgewing word ons verbied om hul persoonlike besonderhede bekend te maak,” het Pojie beklemtoon.
Enigiemand met inligting van die noodlottige insident van Nel se afsterwe, word gevra om die ondersoekbeampte, speur.brig. Leon Hanana, by 082 522 2281 te bel.





