GAUTENG. – ‘n Verdagte (35) is deur die polisie in hegtenis geneem nadat Dirk Kritzinger (81) op 20 Julie tydens ‘n plaasaanval op Cullinan gesterf en sy vrou, Sarie, ernstig beseer in ‘n hospitaal opgeneem is.
AO Johan van Dyk sê ‘n distrikstaakspan is ná die aanval ontplooi om die verdagte op te spoor.
“Deur die ondersoek van alle leidrade en inligting wat van die gemeenskap ontvang is, is verdagtes geïdentifiseer wat moontlik betrokke was by die moord en aanranding op die bejaarde egpaar.”
Tydens deursoeking van die verdagte se huis is eiendom en ‘n vuurwapen wat aan die slagoffers behoort, gevind.
“Die ondersoek duur voort om alle leidrade op te volg en alle verdagtes voor die gereg te bring.”
Van Dyk sê die verdagte sal binnekort op aanklagte van moord, huisroof, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in die Cullinan-landdroshof verskyn.
Brig. Samuel Thine het die lede vir hulle werk om die verdagte op te spoor, geprys.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
‘n Bejaarde boer (81) het Saterdag in ‘n plaasaanval in die Cullinan-polisiëringsarea gesterf. Sy vrou is ernstig tydens die voorval beseer.
AO Johan van Dyk, distrikspolisiewoordvoerder, sê Cullinan-polisie is na ‘n klagte van ‘n plaasaanval ontbied. Met aankoms is die oorledene met kopbeserings in ‘n plas bloed aangetref. Sy vrou, wat ernstig beseer is, was besig om mediese hulp te ontvang.
“‘n Getuie het gesê dat hy vinnig na die oorledene se woning gery het, nadat hy ‘n oproep van die oorledene se dogter gekry het om te sê haar ouers antwoord nie hul fone nie. Sy het vermoed dat iets dalk gebeur het, omdat dit ongewoon is dat hulle nie die fone antwoord nie.”
Met aankoms het die getuie die oorledene en sy beseerde vrou in die huis aangetref. Van Dyk sê die motief vir die aanval is onbekend. Dit is ook nie seker of enige besittings gesteel is nie.
“‘n Saak van moord en huisroof is vir ondersoek geopen en alle leidrade word ondersoek.”
Enigiemand met inligting word gevra om die polisie te kontak sodat die skuldiges aanspreeklik gehou kan word.