OOS-KAAP. – ’n Verdagte (34) is Woensdagoggend omstreeks 03:00 in Libode in hegtenis geneem nadat die polisie glo ’n onwettige AK-47-aanvalsgeweer, ammunisie en dwelms by hom gevind het.
Kapt. Welile Matyolo, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring beamptes van die OR Tambo-distriktaakspan in Mthatha het die verdagte tydens ‘n intelligensiegedrewe operasie, as deel van die Veiliger Feesseisoen-veldtog, in hegtenis geneem. Dagga, tik en ‘n onbekende bedrag geld, wat vermoedelik met dwelmhandel verbind word, is saam met die geweer gevind. Die verdagte kon geen lisensie vir die wapen of ammunisie toon nie en is op die toneel in hegtenis geneem.
Hy verskyn vandag op aanklagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, asook die besit en handel in dwelms in die Libode-landdroshof.





