LIMPOPO. – ‘n Verdagte (54) is Sondag in die besit van ‘n vermoedelik gekaapte Toyota Fortuner op die N1-hoofweg tussen die Kranskop- en Nylplazas deur die blitspatrollie van Waterberg- en Capricorn-distrikte gearresteer.
Kol. Malesela Ledwaba sê volgens inligting was lede op patrolliediens toe hulle die wit verdagte Fortuner met sy bestuurder opgemerk en takties benader het. Voorlopige ondersoek dui aan die voertuig is vandeesmaand in die Garsfontein-polisiëringsarea in Gauteng as gesteel aangemeld.
“Die voertuig was bedoel om deur die Beitbrug-grens na Zimbabwe gesmokkel te word.”
Die verdagte is gearresteer en het vandag in die Mokopane-landdroshof verskyn.
Ledwaba sê die ondersoek duur voort.

