GAUTENG. – ‘n Man (40) het hom vanoggend (Woensdag) aan die ondersoekeenheid vir ernstige kommersiële misdaad van die Valke oorgegee. Hy is na bewering by bedrieglike vakansie-koopbewyse betrokke.
Kol. Katlego Mogale sê die verdagte sal vanoggend in die Palm Ridge- gespesialiseerde kommersiële misdaadhof voorkom. Na bewering is hy betrokke by die verkoop van bedrieglike vakansie-koopbewyspakkette deur Priority Escape aan vakansiegangers vir reise na die Maldives.
“Toe hulle die reise moes onderneem, het kliënte uitgevind dat Priority Escape opgehou ‘werk’ het en hulle het nooit enige terugbetalings ontvang nie.”
Tydens ondersoek deur die Valke is vasgestel die verdagte het glo meer as R2.1 m. vir persoonlike gewin gebruik wat deur niksvermoedende slagoffers aan Priority Escape betaal is.





