NOORDWES. – Clifton Keobokile Kenosi (38), oftewel Rasta, het Maandag op aanklagte van veediefstal en opsetlike saakbeskadiging in die Ganyesa-landdroshof verskyn. Kenosi is borg geweier en bly in aanhouding tot sy volgende borgaansoek in die hof op 27 Mei.
Lt.kol. Amanda Funani sê die verdagte en vier makkers het gedurende Desember 2023 agt beeste gesteel en het ook 44 beeste op ‘n plaas buite Bray naby Vryburg vergiftig.
‘n Provinsiale ondersoekspan en Noordwes-opsporingspan het die ondersoek in die saak gelei. Op Vrydag 17 Mei is die beweerde aanvoerder in Morokweng in hegtenis geneem. Hy is positief met twee sake verbind. Die polisie soek nog na vier verdagtes wat op ‘n plaas in Kuruman in die Noord-Kaap werk en ook aan die sake verbind word.
Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale kommissaris, het die ondersoek-en-opsporingspan geprys en moedig die spanne aan om die oorblewende verdagtes ook in hegtenis te neem.





