Brekende Nuus
Nuus

PAS BEKEND: Verdagte dieselfde dag in Limpopo vasgetrek ná Tembisa-vrou se moord

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – ’n Verdagte is Saterdagaand in Tzaneen, Limpopo, in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n vrou, wie se liggaam Saterdagoggend by Mooifontein-begraafplaas in Tembisa gevind is.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die verdagte het ná die moord na Tzaneen gevlug, waar hy omstreeks 23:00 deur lede van die polisie opgespoor en in hegtenis geneem is. Lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, het die beamptes van misdaadintelligensie in die Ekurhuleni-distrik, Tembisa-Suid-speurders, die ondersoekende sielkunde-eenheid, kundiges van die Gautengse plaaslike kriminele rekordsentrum en Bolobedu-polisiekantoor vir hul gekoördineerde optrede geprys.

Dimpane sê die span se vinnige reaksie en samewerking het tot die verdagte se inhegtenisneming op dieselfde dag gelei. Sy sê die polisie sal voortgaan om mense wat met moord en geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord verbind word, op te spoor en teen hulle op te tree. 

Die ondersoek na die ander vroue se liggame wat in Ekurhuleni gevind is, duur voort. Die polisie volg alle beskikbare leidrade op om vas te stel wat met die vroue gebeur het en of daar enige verband tussen die sake is.