GAUTENG. – Michael Harry Lomas (77), uitgelewer van die Verenigde Koninkryk, het op 65 aanklagte van Eskom-korrupsie van R1.4 bn. in die Kempton Park-landdroshof verskyn.
Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG, sê die Valke (DPCI) en aanklaers van die ondersoekdirektoraat teen korrupsie (IDAC), gesetel in die NVG, het saamgewerk om beweerde korrupsie by Kusile-kragstasie te ondersoek. 11 ander beskuldigdes word deur dieselfde aanklagte as Lomas in die gesig gestaar. Onder hierdie verdagtes is voormalige uitvoerende beamptes van Eskom en direkteure van Tibular Construction Projects. Die batebeslagleggingseenheid (AFU) was ‘n beperkingsbevel van ongeveer R1.4 bn. teen hul bates toegestaan.
Lomas sal weer op 27 September vir formele borgaansoek in die Palm Ridge- gespesialiseerde kommersiële misdaadhof verskyn. Die korrupsie behels geld wat vir die opgradering van die Kusile-kragstasie in Mpumalanga, tussen 2014 en 2017 bedoel was.
“Die saak van die 11 beskuldigdes is tans in die Johannesburgse hooggeregshof. Lomas sal in die laerhof aangekla word voordat sy saak met die een in die Johannesburgse hooggeregshof gekombineer word, waar die aangeleentheid deur IDAC vervolg word.”
IDAC het ‘n suksesvolle uitleweringsaansoek aan die VK gebring, waarna Lomas op 15 April 2021 gearresteer en op 20 Mei 2021 op borg vrygelaat is. Die staat se uitleweringsaansoek is teengestaan, maar op 30 Januarie 2023 is die uitleweringsooreenkomsbevel deur die minister van staatsveiligheid in die VK geteken. Lomas het appèl aangeteken wat onsuksesvol was. Hy het nog vier keer onsuksesvol appèl probeer aanteken, wat deur die hof van die hand gewys is.
“In ’n poging om uitlewering aan Suid-Afrika te ontduik, het hy ’n aansoek by die Europese Hof vir Menseregte ingedien, en dit was ook onsuksesvol.”