PRETORIA, GAUTENG. – ’n Vermeende kaper (21) het gister in die Pretoria-landdroshof op aanklagte van motorkaping en ontvoering verskyn. Dit volg nadat ’n man (49) glo Saterdagmiddag voor sy werksplek se hek ontvoer is toe sy wit Isuzu-bakkie gekaap is.
Tydens die voorval wat in Meerkatstraat, Theresapark, plaasgevind het, is die slagoffer na bewering deur twee gewapende mans oorval wat hom in die agtersitplek van sy bakkie ingedwing het.
Volgens Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, is die slagoffer in Soshanguve afgelaai waarna die verdagtes na bewering met die bakkie weggery het. Die saak is by die Rietgat-SAPD aangemeld. Hulle en Pretoria-Noord se misdaadvoorkomingseenheid het dadelik na die verdagtes begin soek.
Inligting rakende die verdagtes en voertuig is ontvang. Die bakkie is ongedeerd na ’n jaagtog in Mabopane gevind en een verdagte is in hegtenis geneem. ’n Tweede verdagte het te voet gevlug. Die ondersoek duur voort.
Bronne: The Citizen, Joburgetc





