NOORDWES. – ‘n Verdagte (24) is Vrydagoggend vroeg in die Tshing-woonbuurt, net buite Ventersdorp, vir die beweerde diefstal van ‘n ambulans met ‘n pasiënt binne-in vasgetrek.
Kol. Adéle Myburgh sê die ambulans is glo Donderdag omstreeks 23:55 reg voor die plaaslike hospitaal gesteel. Na bewering het EMRS-personeel (Emergency and Medical Rescue Services) ‘n pasiënt ontvang wat na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer moes word. Nooddienspersoneel was besig met die oorhandiging, toe die verdagte glo met die ambulans en pasiënt wegry.
Die polisie is dadelik in kennis gestel en die ambulans is kort daarna voorgekeer. Die pasiënt is nie tydens die insident beseer nie.
Die verdagte verskyn vandag op ‘n aanklag van motordiefstal in die Ventersdorp-landdroshof.