DURBAN, KWAZULU-NATAL. – Grayson James Beare (44) het vandag op aanklagte van moord en twee aanklagte van poging tot moord in die Durban-landdroshof verskyn.
Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, sê Beare het in die hof verskyn nadat ‘n vrou en twee gesinslede (man en seun) op 2 Junie in die Glenmore-area gesteek is. Die vrou het gesterf en haar gesinslede is ernstig beseer.
‘n Formele borgaansoek sal op 11 Junie aangehoor word. Intussen sal Beare sielkundige waarneming ondergaan. Die staat sal borg teenstaan.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
’n Gesin is omstreeks 3:30 Sondagoggend in hulle huis in Glenmore, Durban, met messe oorval. Die ma het gesterf, terwyl die pa en seun kritieke beserings opgedoen het.
ALS Paramedics Medical Services beskryf die toneel as afgryslik. Volgens hulle is die gesin na bewering deur ’n enkele verdagte in hulle huis oorval.
Die ma, vermoedelik in haar veertigs, is op die toneel dood verklaar. Die pa en seun is op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ’n hospitaal gehaas is.
Geen inligting vir die motief van die aanval is nog bekend nie. Ondersoek word deur die SAPD ingestel.
Bronne: ALS Paramedics Medical Services, Facebook