GAUTENG. – ‘n Verdagte (35) wat van die moord van twee meisies, onderskeidelik 4 en 7 jaar oud, op 2 Junie in Soshanguve, beskuldig word is deur die polisie in hegtenis geneem en verskyn vandag in die hof. Nog twee persone is doodgeskiet.
Kol. Mavela Masondo sê die verdagte is Sondag in Akasia in hegtenis geneem. ‘n Voertuig wat ook na bewering in die uitvoering van die misdaad gebruik is, is gekonfiskeer. Verdere ondersoek word gedoen en meer verdagtes mag moontlik in hegtenis geneem word.
Die meisies is ook in hulle huis gebrand.
Die verdagte sal vandag op aanklag van vier moorde en vier van poging tot moord in die Pretoria Noord-landdroshof verskyn.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Twee meisies, een (7) ‘n gr. 2-leerder van Primêre Skool Lesedi en haar sussie (4) is Sondag in hulle informele woning in Soshanguve, noord van Pretoria, doodgeskiet.
Steve Mabona, die woordvoerder vir onderwys in die provinsie, sê die tragiese insident het die gemeenskap en die LUR, Matome Chiloane, geskok.
Mabona sê die polisie ondersoek die insident.
Die onderwysdepartement in Gauteng het maatskaplike werkers van die distrik en Childline ter ondersteuning aan die familie en die skool ter beskikking gestel.
“Dit is ‘n verwoestende verlies, en my hart gaan uit na die familie en die hele skoolgemeenskap. Ons doen ‘n beroep op wetstoepassingsagentskappe om oortreders aan te kla. Die veiligheid en welstand van ons leerders is uiters belangrik, en sulke geweldsdade is onaanvaarbaar en moet met die grootste erns aangespreek word,” sê Chiloane.
AO Johan van Dyk sê die polisie het Sondag ‘n klagte van ‘n shack wat in Nkandla- informele nedersetting, net buite die Rosslyn-area brand, ontvang.
Met aankoms op die toneel het het mense wat saamdrom gesê twee kinders het in hul ouers se shack doodgebrand. Polisielede het een kind op die bed en een op die grond aangetref. Beide was onherkenbaar verbrand en is op die toneel dood verklaar.
Van Dyk sê die polisie het ‘n 9 mm- en ‘n geweerdoppie op die toneel gevind.
Die dubbelmoord van die kinders word ondersoek.





