LIMPOPO. – ‘n Aantal verdagtes is vir vermeende voertuigdiefstal aangekeer en 12 gesteelde of gekaapte voertuie van Gauteng, wat vir Zimbabwe bedoel was, is binne ‘n week deur die polisie in hul stryd teen oorgrens-voertuigdiefstal en -smokkelary teruggevind.
Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die 12 voertuie wat teruggevind is, is deel van ’n groter operasie wat van Donderdag tot Sondagaand deur verskeie polisie-eenhede, Tracker en veilgheidsmaatskappye uitgevoer is. Ses van die 12 voertuie is met Tracker-toestelle toegerus. Die voertuie, oorspronklik van Gauteng afkomstig, is op verskeie plekke soos naby die Beitbrug-grenspos, Polokwane, Mokopane en Witbank onderskep. Onder die herwonne voertuie is sewe Toyota Corolla Cross, twee Toyota Hilux, een Nissan Navara, een Ford Ranger en een Nissan 1400. Ses verdagtes is in aanhouding.
In die mees onlangse operasie het die Musina-taakspan Woensdagmiddag omstreeks 19:30 ‘n Toyota Corolla Cross, wat in Januarie as gesteel in Brakpan aangemeld is, tydens ‘n roetine-operasie in Bergview onderskep. Die bestuurder het tydens ‘n kort jaagtog deur die polisie in bosse probeer ontvlug, maar is na ‘n soektog in hegtenis geneem.
In ’n tweede suksesvolle operasie het spanne gesamentlik inligting opgevolg en ‘n Toyota Rav4 omstreeks 20:00 naby Shell Ultra City in Polokwane op die N1-hoofweg onderskep. Die voertuig is die vorige naweek as gesteel in Brooklyn aangemeld. ’n Buitelandse burger (43) is op die toneel in hegtenis geneem en sal Vrydag in die Polokwane-landdroshof voorkom.
Die ondersoeke duur voort.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





