OOS-KAAP. – Drie verdagtes tussen 18 en 32 jaar oud sal na verwagting vandag op aanklagte van poging tot moord in die Gelvandale-landdroshof verskyn. ‘n Polisiebeampte is tydens ‘n beweerde skietaanval in Helenvale, Gqeberha, gewond.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê die verdagtes is op 30 Junie in hegtenis geneem. Volgens hom het polisiebeamptes kort ná middernag misdaadvoorkomingspatrollies in Elkstraat uitgevoer, toe hulle na bewering onverwags onder skoot gekom het. ‘n Polisiebeampte is tydens die aanval in die nek en skouer gewond en is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal gehaas.
Die ondersoek het later dieselfde dag gelei tot die inhegtenisneming van drie verdagtes wat glo by die skietery betrokke was. Die beskuldigdes sal op aanklagte van poging tot moord in die hof verskyn, terwyl die ondersoek voortduur.





