NOORDWES. – Sesing Tsabane (32) is met chemikalieë waarmee inkvlekke van note gewas word in sy besit gearresteer. Letlala Elias Qabano (36), Joshua Molibeli (34) en Molefe Abel Fusi (26) is ook in hegtenis geneem.
Die verdagtes, wat Vrydag in hegtenis geneem is, het Maandag op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en geldwassery in die Klerksdorp-landdroshof verskyn.
Kol. Adéle Myburgh sê inligting is ontvang en Tsabane, ‘n Lesotho-burger, is met die chemikalieê in ‘n huis in Kanana naby Orkney in hegtenis geneem. Daarna is ‘n onbekende bedrag geld met inkbevlekte note by ‘n huis in uitbreiding 5 in Alabama gevind. Die ander drie verdagtes, van wie Qabano ‘n Lesotho-burger is, is ook in hegtenis geneem.
Myburgh sê die polisie se ondersoek duur voort en die moontlikheid dat die verdagtes met die opblaas van OTM’s verbind kan word, is nie uitgesluit nie.
Die hofsaak is tot 27 Mei uitgestel. Die verdagtes bly in aanhouding.


