GAUTENG. – Drie verdagtes is Woensdag dood nadat ’n skietery tussen hulle en die polisie op die N12 uitgebreek het, kort nadat ’n koeriervoertuig in Tokoza glo beroof is.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Dimakatso Nevhuhulwi, het polisiebeamptes inligting ontvang oor verdagtes wat na bewering pas die voertuig beroof het. Die verdagtes, wat in ’n silwer Toyota Corolla gery het, is in Kliprivierweg opgemerk waar hulle die N12 in die rigting van Soweto binnegegaan het.
Toe polisie hulle probeer aftrek, het hulle glo weggejaag, wat tot ’n hoëspoedjaagtog en skietery gelei het. Die verdagte voertuig het uiteindelik op die N12 tussen die Xavier- en Soweto-afritte tot stilstand gekom. Drie verdagtes is op die toneel dood verklaar, terwyl nog een gewond is. Die polisie het twee vuurwapens en die vermoedelik gesteelde goedere teruggevind.
Tydens die operasie het die polisie twee vuurwapens en van die vermoedelik gesteelde goedere teruggevind.
Lt.genl. Tommy Mthombeni, die provinsiale polisiekommissaris, het die samewerking tussen verskeie eenhede geprys.





